Zorba's Restaurant
Onthou jy dalk nog die ou Zorba Restaurant hier vanuit die 70tigs?
Ja, Theodorus Vouiatzis is ‘n ware ikoon in Kaapstad en met sy 40 jaar ondervinding in die gasvryheidsindustrie kan sy nuwe Zorbas niks anders wees as baie spesiaal nie.
Sommer so ‘n klipgooi van die monding van die Milnerton Lagoon sal jy hierdie pragtige restaurant kry met sy stylvolle dekor wat vir jou ‘n meditereense gevoel gee. Die kleure is vars, tog sag en warm en alles is van die hoogste gehalte en stylvol bymekaar gesit. Weet ook dat jy van tyd tot tyd in die eg Griekse tradisie borde gaan hoor breek en dalk sal moet opspring of wil opspring om gou die Zorba te dans.
Die spyskaart is keurig bymekaar gesit en dit is moeilik om te kies. Ek en my gaste besluit op ‘n meze platter, garlic snails en octopus vingiarette vir voorgereg. Ons eet ons vingers af en deel oor en weer en stry oor wie se keuse die beste was.
Om die hoofgereg te kies is ‘n utdaging, want alles lyk heerlik. Gelukkig beweeg Theo die heel tyd tussen sy gaste met sy kenmerkende voorskoot en lappie oor die skouer – en hy gesels graag.
Ons eet onder andere van die prawns, biefstuk met biltong en avokadopeer en mama’s lamb. Mama’s lamb word voorberei deur Theo se vrou en dit is eintlik amper soos properse boerekos. Heerlike oondgeroosterde lam, met groente en gebraaide aartappels. Die porsies is moeilik om baas te raak, want dit is baie ruim.
Nagereg is daar baie om van te kies en ewe moeilik. Dit is nou as jy nog ‘n gaatjie het vir enige iets. Ons het besluit om te deel en het die sticky toffee poeding en peppermint crisp tert gekies. Dit was lippeaflek lekker.
Zorba is oop 7 dae ‘n week. Dit is wys om maar liewer te bespreek. Op sekere aande word jy getrakteer op pragtige klaviermusiek – jy kan selfs versoeke indien.
Die pryse is billik en gaan nie te ‘n groot gat in jou sak laat nie.
Gaan ontmoet vir Theo, geniet heerlike kos onder sy vaardige hand en direkte toesig en gooi ‘n paar borde stukkend.
Tel 021 528 2093
- Ingrid Venter
In : Grieks
