KOSKLETS PROGRAM 2 (14 Oktober 2010)

As jy wil weet waarna toe die oorsese toeriste in hordes stroom om egte, tradisionele Kaap Malayse kos te eet, moet jy net ‘n draai gaan maak in die Bo-Kaap. Op die hoek van Wale en Pentz Strate sal die heerlike geure van Biesmilla’s jou by die deur inlok.

Die eienaar van die restaurant, Abdulla, is reeds 38 jaar hier en as jy begin praat oor kos kan jy sien waar sy passie lê! Om te begin word daar daagliks 1600 samoesas hier gemaak! Dit is nou nie vir al die toeriste nie, maar vir buitebestellings!

Ingrid en ek word vergesel deur Arrie en Willem, wat ons net  kon wegsleep uit die kantoor met die belofte van ‘n besonderse ete.  Die spyskaart is indrukwekkend met alles van koeksisters vir voorgereg (tot groot plesier van ons twee girls!) tot kerries tot ‘n groot stuk vleis (vir die boere wat nie so braaf is nie). Ons vat Abdulla se goeie raad en laat dit aan hom oor om ons te verras.

Voorgereg bestaan uit ‘n bord vol allerhande lekkergoed. Dit sluit in die koeksister – wat glad nie soos die boere koeksister lyk of proe nie, inteendeel vir my ‘n heerlike ervaring (maar meer gaan ek nie sê nie, julle moet maar self gaan proe!).  Saam met die koeksisters kom die bekende samoosas en daltjes (“chilli bites”). Na voorgereg kry ons kans om ‘n besonderse hoenderpastei/broodjie te proe.

Teen die tyd is ons al goed versadig en hoofgereg is nog nie eers in sig nie. Ons oë rek as die een bord na die ander voor ons neergesit word. Tamatiebredie, Denningvleis, Penang Kerrie en viskerrie (Abdulla se gunsteling). Saam met dit kom gegeurde rys en rotis. Ek het nog nooit in my lewe Denningvleis geëet nie en wat ‘n fantastiese smaak ervaring. Dit raak net beter! Die tamatiebredie is effe soet en sag op die tong.  Vir my is die hoogtepunt die Penang Kerrie, wat ek moet bysê glad nie warm is nie (vir my is Nando’s se Lemon & Herb warm!).

Om die rede probeer ek glad nie die viskerrie nie. Dit nadat Willem se gesig van rooi, tot bloedrooi, tot rooier as bloedrooi gegaan het, na sy eerste happie viskerrie! Abdulla het dadelik tot die redding gekom met ‘n mango lassi, was soos hy se “jou afkoel van binne af”! Die suurmelk drankie is heerlik en vars. (Neem asb kennis dat geen drank hier toegelaat word nie – wat dalk die sak nog beter kan pas!).

Teen nagereg is daar glad nie meer plek in ons vol mae nie, maar vir die sago poeding kan nie een van ons nee sê nie! Dit proe presies soos my ouma dit gemaak het, behalwe dat dit nie so stroopsoet is nie.

Ek dink Arrie het die eetervaring hier die beste opgesom as ‘n eetervaring van verskillende smake. Dit het hy heel filosofies geopper terwyl hy sy hande saamgeslaan het, gevolg met ‘n belofte om Abdulla ‘n drukkie te gee vir die lekker eet!

Bieshmiellas is baie bekostigbaar, veral as mens dink hier word baie oorsese besoekers gevind. ‘n Samoesa begin by R 3.50 en die gemiddelde prys van ‘n hoofgereg is so R 70. Ons sago poeding was die winskopie van die dag teen net R 15!

Die restaurant is oop 6 dae van die week (toe op Sondae) vanaf 7:30 tot 11:00 in die aand.

Vir meer inligting:
http://www.biesmiellah.co.za                Tel : 021 423 0850