Ons word welkom geheet by die Shoreline Café deur Zefferino Fransisco  - ‘n boorling uit Brasilië wat sy hart verloor het op ‘n Italiaanse Suid-Afrikaanse meisie. Zeff, soos sy vriende hom noem, is ‘n uitstekende gasheer. Hy maak seker dat ons ‘n tafel op die dek kry met pragtige uitsigte op die hawe en Tafelberg. Dit is natuurlik ‘n tafel vanwaar jy al die aksie kan gadelaan, van die span roeiers wat ernstig by ons verby vaar (of eerder spoed), tot die lui rob (meer ons tipe) wat lekker in die sonnetjie slaap en die pramantige seeumeeu wat, toe Ingrid haar kop draai, vinnig haar meusli en yoghurt probeer verorber! Toe verstaan ons die waarskuwing op die tafel “don’t feed the birds”!

Shoreline Café maak die perfekte beginpunt of eindpunt vir ‘n besoek aan die bekende Kaapstad Akwarium. Dit is dan ook deel van die akwarium en probeer maar die koeke miskyk as jy daarverby stap na die Akwarium, want anders sal jy jou hele besoek net smag na die lekker eet wat vir jou wag.

Dit is ‘n tipiese cafe en jy gaan bestel jou ete van ‘n reuse bord, betaal en word dan bedien. Ons geen eet ontbyt en smul heerlik aan die gesonde kosse (saam met die seeumeeu), asook die meer tradisionele ontbyt met eiers, roosterbrood en wors.

Daar is ook ‘n vreeslike oulike speelkamer vir die kinders en Zeff vertel met trots van die besonderse kinderpartytjies wat hulle hier aanbied. Hy roep ons gou om ‘n hoekie en daar staan die pragtigste “Nimo” seekoek en klein koekies. Die partytjietafel is ook vrolik met allerhande seedinge gedekoreer. Hier gaan vandag ‘n baie gelukkige seuntjie verjaar!

Vir middagete is daar ‘n groot verskeidenheid ligte etes, soos geroosterde broodjies en hamburgers en lekker seekosetes vir die kinders.  Ons sluit die oggend af met ‘n reuse stuk sjokoladekoek. Daar was ‘n paar van ons wat nog ook wou plek hou vir die Kaaskoek (wat Zeff sê is een van hulle lekkerste koeke) – maar hulle sê toe maar “nee” omdat hulle weet wat nog voorlê op pad buiten toe. Die Icezeits Gelato toonbank, met sy baie gesonde (“free-range” melk, geen preserveermiddels) roomys met eksotiese smake soos choc-chilli en campari-orange.

Ons sal jou vergewe as jy, danksy al die lekker eet, skoon vergeet het dat jy nog wou akwarium toe gaan. Verseker ‘n volgende keer – en dan kan ons sommer die kaaskoek ook kom proe!



Vir meer inligting:
http://www.aquarium.co.za/plan_your_trip/shoreline_cafe
021 418 8645/6
Tye : 09:00 – 18:00

-
Monique Strydom