As jy nou lus is vir ‘n anderse tipe restaurant  waar jy jou skoen kan uittrek en plat op die grond kan sit en net lekker kuier dan moet jy Mesopotamia hoog op jou lys sit.

Mesopotamia is die eerste Kurdse restaurant in SA en Baran, die eienaar, is een van min Kurde in Suid Afrika. En neem kennis, die Kurde het ‘n fasinerende geskiedenis. Daar is so 20 milloen Kurde  en hulle is die grootste etniese groep in die wêreld wat nie hulle eie nasie en land het nie. Tans woon hulle in ‘n  area wat opgedeel is tussen Turkeye, Iran, Sirie en Irak.

Ten spyte daarvan sien jy hoe trots die Kurde is op hulle geskiedenis en hulle tradisies is. Die restaurant is gevul met familie erfstukke van kopertafel tot kelims. Baran wys vir ons sy familietafel wat met die hand beslaan is en sy familie se geskiedenis uitbeeld. Wat dit so besonders maak is dat die tipe werk nie meer deur die jong mense gedoen word nie en hierdie tafels baie waardevol is. 

Net so besonders die geskiedenis – so is die kos.  Hier eet jy tradisionele kurdse kos en word alles gaar gemaak op tandoori hout vuur.   Ons begin met ‘n meze platter wat ‘n kombinasie is van meer bekende disses soos Dolamades, hummus, en dan ook heerlike nuwe geure en smake soos “Gurchuk” –(lamslewers met feta kaas, tamatie en chilli) en  “Ispanak Tamara” –(spinasie, yoghurt knoffel en speserye). Die lekkerste dis om die mezze bord is die “Lahana” (kool gestop met mossels, spicy rice, neute, korrente en kaneel) en ek moet byvoeg dat die beskrywing nie naastenby eer gee aan die dis nie! Die hoofgereg kom met ‘n reuse naan – maar wees gewaarsku, moet nie te veel daarvan eet nie – want daar is nog baie ander lekker keuses!

As jy ‘n vleiseter is dan moet jy die “ Iskender” bestel, wat ook die restaurant se spesialiteit is. Dit is heerlik sag en laat mens so effe aan ons eie Denningvleis dink.  Oor die “Chicken Guvech” ( Hoender met sampione, groen risse en kaas gebak in kleipot in oond) is ons groep ook gaande, maar die een vegetarieër in die groep kan nie uitgepraat raak oor die “Badiljane Tijikiri” (eiervrug gevul met groente).  Al geregte kom saam met “Savare Kariya”, ‘n koring met sjampioen bygereg.

So tussen al die etery is daar ook vermaak as ‘n baie oulike “belly dancer” haar passies kom vertoon en ‘n paar van die gaste kry om saam met haar te dans. Ek moet bied die vloersittery en lekker kos het my heeltemal te lui gemaak daarvoor!

Ons sluit die aand heel gepas as met die heerlikste  Baklava met pistasio en roomys. Ek het altyd aangeneem dit is ‘n Griekse gereg, maar Baran vertel dat die eintlik aan almal behoort.  Ek steel ook so happie van die “Sulach”, die oondgebakte ryspoeding met suiker en kaneel en wonder so stilletjies of mense sal kyk as ek dit ook maar bestel! 

Baran vertel ook dat sy restaurant ‘n gunsteling is vir spesiale geleenthede of korporatiewe funksies. Dit is ‘n uitstekende keuse teen so R 60 – R85 vir ‘n hoofgereg. Jy kan ook die 3-gang spyskaart eet vir R 175 per persoon.

Drink gerus ‘n lekker tradisionele Kurdse koffie saam met Baran en luister na sy vele stories. Hy is ‘n baie interressante man wat al ‘n kort film gemaak het wat by die Cannes Filmfees ‘n prys gewen het – en dit het niks met Kurdse kos te doen nie!

Vir meer inligting:
www.mesopotamia.co.za 
021 424 4664