Bollywood is “glits & glamour”met mooi mense en blink klere. Maar hier in Kaapstad ontdek ons ‘n ander tipe Bollywood  - fusion met ‘n tikkie Indies, Suid Afrikaans en selfs Israeli (maar daaroor praat ons nie vandag nie!).

Ons kuier by Masala Dosa in Long Street en dit is vars wit met helder kleure wat jou begroet as jy hier instap.  Jou oog vang sommer onmiddelik die pragplakkate teen die een muur wat jy dan eers later sien is die spyskaart en die Bollywood ster daarin, is niemand as Amit, die eienaar en sjef nie!

Die naam van die restaurant kom van 'n tradisionele ontbyt gereg.  'n Dosa
is 'n groot "crispy" pannekoek gemaak van rys en lensies wat gemaak word.  Dit word tradisioneel bedien met aartappelkerrie, maar by Masala Dosa kan jy egter uit 'n
verskeidenheid ander vulsels kies – soos Channa Masala (Chick peas), hoender in kokosneut room of lam in ‘n roomerige sous. Onthou om sommer ‘n lekker blatjang saam te bestel.

Daar is ook ‘n groot verskeidenheid interressante voorgeregte. Ons skrik vir die “aloo bombs” (wat ontwerp is deur Amit). Dit is  aartappel- en rysballetjies met ‘n rissie binneste, maar dit is toe heerlik.  ‘n Voorstel is natuurlik om sommer ietsie van alles te bestel en alles te proe!

Vir die wat gesond wil eet is daar ‘n groot verskeidenheid om van te kies. Daar is drie gesonde slaaie om van te kies en Amit is  trots daarop dat die restaurant voorsiening maak vir diegene wat streng vegetaries is of laktose toleransie het. Sy produkte is vars en organies.

As jy lus is vir kerrie en vir verskeidenheid, dan bestel jy “thali”.  Dit is ‘n verskeidenheid van klein porsies kerrie en jy kry ook sommer die lekker “sulji halwa” (semolina poeding met caradamon en saffron)  nagereg saam.

Van nagereg gepraat, moet nie te veel eet nie, want jy kan nie die nagereg hier mis nie! . Ons is in ekstase oor die Kulfi – ‘n  tradisionele Indiese roomys met Kardomon en kasjoe neute.  En moet nie vergeet van die “sweet dosa’’ nie, gevul met rissie sjokolade – net so dekadent soos dit klink.

Hier is ‘n goeie wynlys maar die ander drinkgoed is so lekker en uniek dat mens nie eers by die wyn uitkom nie! Ons begin met sy tuisgemaakte ystee met gemmer, kaneel en kardamon in. Dit is heerlik verfrissend op so ‘n warm dag. Saam met die hoofgereg bestel ons dadelik lassi – net vir ingeval die kerrie te warm is. Daar is die gewone vrugte lassi’s om van te kies en dan die baie gesonde “bang lassi” met gemmer en suurlemoen en spirulina. Dit is so smaaklik, jy kan amper nie glo dit is so gesond nie!

Die pryse hier is uiters bekostigbaar – met die goedkoopste Dosa wat by R 39 begin en die duurste wat R 65 is.

Ons het heerlik geeet hier en almal in die groep is dit eens dat ons gaan terugkom hierna toe!

Vir meer inligting besoek www.masaladosa.co.za of skakel 021 424 6772