Izabellas - Eden on the Bay
Izabellas le lekker gerieflik naby die see in die Eden on the Bay Winkelsentrum. Ons kuier daar op 'n Sondag en die sentrum buzz met die vlooimarkstalletjies en al die besoekers (die son skyn en al die Kapenaars is op die straat!).
By hierdie restaurant met sy pragtige mediterreense dekor en vriendelike eienaars kan jy nie anders as om ontspanne te voel nie. Om die waarheid te se, mens kry eintlik so 'n lekker vakansie gevoel.
Jy kan 'n hartlike verwelkoming verwag deur die eienaar Japie Harmsen, terwyl sy vrou, Adri, die een is wat letterlik die pot aan die kook hou in die kombuis. Buiten al die heerlike disse wat sy so smaaklik voorberei, is die koeke wat sy self bak blykbaar baie populer. Ons hoor net van die heerlike wortelkoek, maar kom glad nie daarby uit na ons reuse borde kos nie!
Op die spyskaart is daar 'n groot verskeidineid disse aantref, maar daar moet spesiale vermelding gemaak word van die interessante slaaie [peer en gorgonsoula] en ook die gourmet toebroodjies. Ons is in 'n Italiaanse bui en smul aan die heerlike pasta - waarvan daar ook 'n hele paar interressante keuses is.
Japie vertel dat hulle ontbyte, veral die omelette met baie interessante vulselkombinasies, baie gewild is. Die porsies is ruim en teen ongeveer R50.00 baie goeie waarde vir geld. Nog iets waarop Japie baie trots is, is hulle unieke melk/koffieskommel met kombinasies wat enige soettand baie lank sal vat om 'n keuse te maak. Ons bestel summier die koffie met die sjokolade mousse (wat van Amerika ingevoer word) met stukke Peppermint Crisp sjokolade bo-op. Dit is totaal dekadent! Behalwe vir die uitgebreide wynlys kan jy ook heerlike cocktails. Vir die wat nie alkohol drink nie is daar net sulke interressante "mocktails"!
Daar is 'n ruim spyskaart vir die kinders en net oorkant die restuarant is daar ook 'n lekker speelplek vir kleiner kinders.
Iszabellas is elke dag oop van 08h00 tot 18h00. Onthou net hulle kan baie besig raak en jy moet nie haastig wees as jy hier wil kom eet nie!
Vir meer inligting kontak Tel : 021 554 9650
In : Cafe
