FRATELLI PALMIERI - Eg Italiaans!

Ons bevind ons daar by die Italiaanse Klub in Milnerton wat ook die tuiste is van een van die beste Italiaanse restaurante in Kaapstad, Fratelli Palmieri. Die restaurant word besit deur twee broers Paolo and Marco Palmieri. En dit is voorwaar ‘n Italiaanse fees, die ontvangs, die ambiance, die musiek, die kos en die gees! Een van my gaste sê so ewe dat dit vir haar voel of ons ‘n Italiaanse troue ge”gate crash” het.
Tony, die bestuurder, is ook ons gasheer en ons besef vinnig hoe passievol Tony oor Italiaanse kos is. Hy begin vir ons borde en borde vol kos aandra en dring daarop aan dat ons soos regte Italianers eet. Wat dit beteken is dat jy die aand begin met ‘n antipasto – wat ‘n reuse bord is vol allerhande lekkernye soos ‘n verskeidenheid koue vleise (coppa, salame, prosciutto) en ingelegte groentes, caprese slaai (met tamatie en mozzarella kaas) en lekker warm knoffelpitabrood.
Ons mae is vol na die eerste gereg, dan is dit tyd van die pasta. En tussen die mondevol knoffel en olyfolie pasta hoor ons by Tony hoe mens moet pasta kook en dat jy nie veronderstel is om pasta af te was as dit klaar gekook is nie! Hy vertel ook dat al hul pasta tuisgemaak is en veral die gnocci hier besonders is. Omdat hulle Suid Afrikaanse aartappels gebruik moet hulle ook van Suid Afrikaanse meel gebruik! Hier moet ons net dit duidelik stel dat die gnocchi met die pesto sous ‘n hoogtepunt is!
Voor hoofgereg kry ons gelukkig kans om die kos so effe aft e dans. Hier is elke Vrydag en Saterdag ‘n orkes en ons sin speel sulke lekker oues (soos Abba) en later die aand maak Elvis tot sy verskyning. Die Italiaanse ouma wat hier by die tafel langs ons sit (kompleet met haar tekkies), spring op en begin soos ‘n jong dame “jive”.
Tyd vir die hoofgereg en ons hoor dat die “Veal al Saltimbocca” gemaak met prosciutto en sage, gekook in wit wyn, ‘n groot gunsteling is. Tony vertel ook vir ons dat hulle Nuwe Jaar Ete ‘n grootste geleentheid is. Moet nie dink jy loop net na 12 nie – nee, om twee uur bedien hulle pasta en dan kan jy maar bly vir ontbyt ook.
Op die stadium is ontbyt die laaste ding waaraan ons dink want die mae is nou al so vol! Dit is die teken dat nagereg moet kom en weereens is dit ‘n hele bord vol. Tony dring daarop aan dat ons alles moet proe. Die “channoli siciliani” (tradisionele Italiaanse deeg gevul met ricotta, geroostered neuter en sjokolade) laat ons glimlag van oor tot oor.
Natuurlik gebruik Tony ons welstand as ‘n verskoning om regte Italiaanse “digistivo” te drink. Dit is nou ‘n nagereg drankie wat die Italianers gebruik as hulle so lekker geeet het – en dit laat hulle blykbaar baie beter voel. Ons drink ‘n dekadente sjokolade digistivo en ek kan nie help om te dink aan al die ure wat ek in die gym gaan moet deurbring na my kuier hier by die Italiaanse Klub nie!
Nog ‘n groot pluspunt van die spyskaart is die pryse. ‘n Groot bord pasta sal jy ‘n skrale R 50 uit die sak uitjaag. Hulle is ook baie bekend vir hulle Sondag middagetes waar jy ‘n driegang ete vir R 95 kan geniet. En moet nie die Prawn special op ‘n Donderdag aand vergeet nie – vir net R 90 kan jy soveel garnale eet soos wat jy kan baasraak.
Aan die einde van die aand is ons almal eens oor ‘n paar dinge, fantastiese kos, great pryse, wonderlike warm atmosfeer - en hier gaan ons verseker weer kom kuier!
Vir meer inligting of om te bespreek:
Tel: +2721 511-5956
In : Italiaans
