Sommer so vlak in Kayamandi, net so voor Stellenbosch,  gaan jy vir Amazink aantref met sy vriendelike eienaar en ook gasheer, Loyiso of tewel, Roots , soos hy genoem word deur die gemeenskap.

Amazink was ‘n lekker verassing.  Netjies, skoon, lekker kos en ‘n ontspanne “happy” gevoel.  Die tafels is mooi geskilder deur studente, daar is sitplek binne en buite met ‘n lieflike area buite onder ‘n tentdak waar ek sommer kon sien – al lekker konserte gehou is.  Hulle was ook juis kant en wal vol met die onlangse Woordfees.

Wanneer daar groot sportgeleenthede is word die Big Screen uitgehaal en word daar sommer baie lekker gekuier.

Hier word gecater vir die plaaslike inwoners, die inwoners van Stelenbosch en dan kom toeriste tog te graag om hierdie township ervaring te he.

Die reataurant vorm deel van die Ikaya Trust Sentrum en terwyl ons daar was op ‘n Sondagmiddag – het ons die pragtige gesing van kinderstemme gehoor.
Daar is natuurlik ook die pragtige uitsig oor die berge van Stellenbosch.

Die kelners was vriendelik en die diens goed.  Die vleisgeregte word gebraai op die oop vlam deur Roots self.  Hy gaan koop ook persoonlik al sy  speserye in die Bo-Kaap

Die spyskaart is beperk, maar ten spyte daarvan lyk alles so lekker dat dit moeilik is om te kies.  En dit is so bekostigbaar.

Ons het gegaan vir die opsie van die African Experience wat vir jou ietsie van alles laat proe.

So ons het weggele aan: stampmielies, pampoenkoekies, geroomde spinasie. Pap en sous, chackalaka, boereboontjies [soos hulle dit noem], hoender, wors, lam en varkvleis.  Dit alles teen R120.00 pp. Ja, dit was baie kos, te veel – veral as jy in ag neem dat ons as voorgeregte heerlike smoesas en vetkoek gehad het.

En ons het ‘n plekkie gehou vir nagereg.  Roots maak sy eie heerlike vla, maar daar is ook nog die allerlekkertste appeltert.

Hulle het ‘n wynlys as jy lus is om ietsie saam met jou ete te geniet.

In die winter maak hulle ook heerlike bredies.

Die lokaal kan ook gehuur word vir funksies. Hulle kan tot 150 gaste akkomodeer.

As jy op hoogte gehou wil word van hulle spesiale aanbiedinge sluit gerus aan by hulle facebook bladsy of gaan besoek hulle webtuiste by www.amazink.co.za

Gaan besoek hulle gerus, kuier, eet, lag en lek jou vingers af van die lekkerte.

Amazink  0218897536

Deur : Ingrid Venter